Liewe Tata Madiba

Liewe Tata Madiba

Ek is jammer dat ek jou vrede in die hemel versteur. Ek hoop van harte dat jy, Walter Sisulu, O.R.Tambo en baie ander leiers van die #ANC  hul “aftrede” in die hemel geniet.
Tata, ek moet vir jou sê dat die pragtige reënboognasie waaroor jy gedroom het en inderdaad help skep het, nie meer bestaan nie. Daar word links en regs geplunder. Die huidige President kom nie die mas op nie. Hy lei ons in die verkeerde rigting.

Hy maak ons ekonomie seer. Hy het die ekonomie onlangs R225 miljard gekos en gee nie ‘n duit om nie.

Hierdie geld kon vir werkskepping gebruik word, en om die armes se lot te help verbeter. Of vir die bou van skole. Dit maak seer, Tata, regtig seer.

Ons land bloei. Mnr. Zuma kan nie al die skade wat hy berokken het, ongedaan maak nie. Ons het nooit verwag dat hy of mnr. Mbeki jou vlak sou bereik nie. Jy het ‘n wonderlike land geskep waarop Mbeki, ten spyte van al sy tekortkominge, voortgebou het. Ek is bang dat ons pragtige land binnekort gaan brand. Die mense is kwaad, en mnr. Zuma steur hom nie aan hulle nie. Ek vra weer om verskoning dat ek jou in die hemel steur maar ek het besef dat ons eenvoudig net nie langer kan swyg nie. Te veel mense was nou te lank stil. Mnr. Zuma het hom met ja-broers in sy Kabinet omring – mense wat ook nie omgee nie en wat hom nie waarsku oor die impak van sy besluite nie. Dit het ‘n jong Sisulu geverg om teen Zuma op te staan, en ek weet dat Walter trots moet wees dat sy kleinseun die vaandel van leierskap opgeneem het. Dit is baie moeilik om diegene in magsposisies met die waarheid te konfronteer, maar iemand moet dit doen. 

Ek weet nie wat ek van jou kan verwag nie, maar vra dat jy asseblief vir ons bid. Ek het ook op ‘n slag in die Presidensie gewerk, en is des te meer gegrief oor wat van ons land geword het. Polokwane was ‘n gruwelike fout.

Ek hoop dat die goeie mans en vrouens in die wêreld in die openbaar hul renons teen wat Zuma aanvang, sal uitspreek. Sy aksies is selfsugtig en nie in ons land se belang nie. Soos alle Suid-Afrikaners het ek my land baie lief, en ek wil net die beste vir my land hê. Meneer die President, ons Suid-Afrikaners is lief vir jou, en ons verlang na jou. Ek weet dat jy eendag gesê het dat die eerste ding wat jy gaan doen wanneer jy in die hemel aankom, is om by die #ANC aan te sluit. Ek vra dat jy, as ‘n #ANC lid in die hemel, jou gebede gebruik om tot mnr. Zuma deur te dring en hom oortuig om uit te tree. Hy het ons land onherroeplik beskadig. Ons het alle kredietwaardigheid verloor. Die reënboognasie waarna jy gehunker het, bestaan nie meer nie. Die ganse wêreld lag vir ons. Ons pronk op die voorblad van die Financial Times, maar om al die verkeerde redes. Ons reputasie as ‘n land wat menseregte en ons Grondwet respekteer, lê aan skerwe.

Ek haal graag die ontslape Brenda Fassie aan, omdat sy julle waarskynlik daar bo in die hemel vermaak: “Ons verlang na jou, Mandela, waar is jy.”

Ricardo Mackenzie